Veiligheidswenke

Om nuwe mense te ontmoet is opwindend, maar jy moet altyd versigtig wees wanneer jy interaksie het met iemand wat jy nie ken nie. Gebruik jou beste oordeel en stel jou veiligheid eerste, ongeag of jy jou eerste boodskap stuur of persoonlik ontmoet. Hoewel jy nie ander mense se optrede kan beheer nie, is daar dinge wat jy kan doen om jou te help om veilig te bly tydens jou Tinder-ervaring.

Aanlyn Veiligheid

  • Moet nooit geld stuur of finansiële inligting deel nie
    Moet nooit geld stuur nie, of dit nou deur 'n bankoorplasing, 'n bankdiens of 'n toepassing op jou foon is, selfs al beweer die persoon dat hulle in 'n noodgeval verkeer. Dit is byna onmoontlik om hierdie transaksies om te swaai of op te spoor waar die geld heen is. Moenie beleggings maak of rekeninge oopmaak by iemand met wie jy pasmaats is of deur dienste of webwerwe wat hulle aanbeveel nie. Moet nooit inligting deel wat gebruik kan word om toegang tot jou finansiële rekeninge te verkry nie. As 'n ander gebruiker jou vir geld vra, rapporteer dit onmiddellik aan ons. Vir wenke om romanse-swendelary te vermy, kyk na van die advies van die Amerikaanse Federale Handelskommissie.

  • Beskerm jou persoonlike inligting
    Moet nooit persoonlike inligting, soos jou maatskaplike sekerheid-nommer, huis- of werkadres, of besonderhede oor jou daaglikse roetine (byvoorbeeld dat jy elke Maandag na 'n sekere gimnasium toe gaan) deel met mense wat jy nie ken nie. As jy 'n ouer is, beperk die inligting oor jou kinders wat jy op jou profiel en in vroeë kommunikasie deel. Vermy die deel van besonderhede soos foto's van jou kinders, hulle name, waar hulle skoolgaan of hul ouderdomme of geslagte.

  • Bly op die platform
    Hou gesprekke op die Tinder-platform terwyl jy iemand leer ken. Omdat interaksie op Tinder aan ons Vertroue- en Veiligheid-opsporingstelsels onderhewig is, probeer gebruikers met slegte bedoelings dikwels die gesprek dadelik na teksboodskappe, boodskapprogramme, e-pos of telefoonoproepe toe verskuif.

  • Wees bedag op langafstand- en oorsese verhoudings
    Wees op die uitkyk vir swendelaars wat beweer dat hulle van jou land af is, maar iewers anders vashaak, veral as hulle finansiële hulp vra om terug te keer huis toe. Moenie dat 'n pasmaat jou oorreed om te belê in of 'n rekening oop te maak by 'n diens of webwerf wat hulle deel nie. Wees versigtig vir enigiemand wat nie persoonlik wil ontmoet of op 'n telefoon-/video-oproep wil praat nie—hulle is moontlik nie wie hulle voorgee hulle is nie. As iemand jou vrae vermy of aandring op 'n ernstige verhouding sonder om jou eers te ontmoet of te leer ken, is dit 'n rooi vlag.

  • Rapporteer alle verdagte en aanstootlike gedrag
    Jy weet wanneer iemand te ver gegaan het. En wanneer hulle dit doen, wil ons daarvan weet. Blokkeer en rapporteer enigiemand wat ons bepalings oortree of jou persoonlike grense oorskry. Hier is 'n paar voorbeelde van oortredings:

    • Versoeke vir geld of skenkings

    • Minderjarige gebruikers

    • Teistering, dreigemente en beledigende boodskappe

    • Onbetaamlike of skadelike gedrag wanneer julle persoonlik ontmoet het of daarna

    • Bedrieglike profiele

    • Gemorspos of kliëntwerwing, waaronder skakels na kommersiële webwerwe of pogings om produkte of dienste te verkoop

Jy kan vanaf enige profielbladsy of boodskapvenster enige kommer oor verdagte gedrag rapporteer. Vir meer inligting, gaan lees ons gemeenskapsriglyne.

Persoonlike ontmoetings

  • Moenie oorhaastig wees nie
    Neem jou tyd en leer die ander persoon ken voordat jy instem om buite Tinder te ontmoet of te gesels. Moenie bang wees om vrae te vra om te kyk vir enige rooi vlae of persoonlike diskwalifiserende tekens nie. ’n Telefoon- of video-oproep kan ’n nuttige siftingsinstrument wees voordat julle ontmoet.

  • Ontmoet in die openbaar en bly in die openbaar
    Ontmoet in 'n openbare plek met mense — nooit by jou huis, jou afspraakmaat se huis of enige ander private plek nie. As jou afspraakmaat jou onder druk plaas om na 'n privaat plek te gaan, beëindig die afspraak.

  • Vertel vriende en familie van jou planne
    Vertel 'n vriend of familielid van jou planne, wat insluit wanneer en waarheen jy gaan. Hou jou selfoon gelaai en te alle tye by jou. Oorweeg dit om jou foon se ingeboude kenmerke te gebruik om jou ligging te deel met iemand wat jy vertrou terwyl jy op 'n afspraak is.

  • Wees in beheer van jou vervoer
    Ons wil hê jy moet in beheer wees van hoe jy by jou afspraak en terug gaan kom sodat jy kan vertrek wanneer jy wil. As jy self bestuur, is dit 'n goeie idee om 'n rugsteunplan te hê soos 'n saamry-toepassing of 'n vriend om jou op te laai.

  • Ken jou perke
    Wees bewus van die uitwerking van dwelms of alkohol op jou spesifiek — dit kan jou oordeel en jou waaksaamheid benadeel. As jou afspraakmaat druk op jou probeer uitoefen om dwelms te gebruik of meer te drink as waarmee jy gemaklik is, hou voet by stuk en beëindig die afspraak.

  • Moenie drankies of persoonlike items sonder toesig laat nie
    Weet waar jou drankie vandaan kom en weet te alle tye waar dit is — aanvaar slegs drankies wat direk deur die persoon agter die kroeg of die kelner bedien word. Baie stowwe wat in drankies geglip word om seksuele aanranding te vergemaklik, is reukloos, kleurloos en smaakloos. Hou ook jou foon, handsak, beursie en enigiets wat persoonlike inligting bevat te alle tye by jou.

  • As jy ongemaklik voel, loop
    Dis in orde om die afspraak vroeg te beëindig as jy ongemaklik voel. Trouens, dit word aangemoedig. En as jou instinkte vir jou sê iets is nie pluis nie of jy voel onveilig, vra die kroegman of kelner vir hulp.

  • LGBTQ+-reise
    Wees versigtig terwyl jy reis. Ons glo in die inklusiwiteit van alle geslagsidentiteite en seksuele oriëntasies, maar die ongelukkige werklikheid is dit: nêrens in die wêreld is sonder potensiële risiko nie. Sommige lande het spesifieke wette wat LGBTQ+-mense teiken. Kyk na die plaaslike wette wanneer jy na 'n nuwe plek reis en ondersoek watter tipe wetlike beskerming, indien enige, op grond van seksuele oriëntasie tot jou beskikking is. Indien jy in 'n onveilige gebied is, stel ons voor dat jy "Wys my op Tinder" afskakel, wat jy op die instellingsbladsy kan vind. As jy 'n seksuele oriëntasie by jou profiel gevoeg het en in 'n gebied is wat ons as onveilig vir LGBTQ+-mense geïdentifiseer het, sal ons jou seksuele oriëntasie op jou profiel versteek totdat jy daardie gebied verlaat. Dit is belangrik om ekstra versigtig te wees as jy kies om met nuwe mense in hierdie lande kontak te maak - sommige wetstoepassers is daarvoor bekend dat hulle afspraaktoepassings vir potensiële lokvalle gebruik. Sommige lande het ook onlangs wette ingestel wat kommunikasie tussen individue op selfdegeslag-afspraaktoepassings of -webwerwe kriminaliseer en selfs erger strawwe oplê as daardie kommunikasie tot seksuele ontmoetings lei.
    Besoek ILGA World om die jongste wette oor seksuele oriëntasie per land te sien, en oorweeg 'n skenking om hulle navorsing te ondersteun. Bron: ILGA World, opgedateer Maart 2019

Seksuele gesondheid en toestemming

  • Beskerm jouself
    Wanneer dit korrek en konsekwent gebruik word, kan kondome die risiko om SOI's soos MIV op te doen en oor te dra, aansienlik verminder. Maar wees bewus van SOI's soos herpes of MPV wat deur vel-tot-vel-kontak oorgedra kan word. Die risiko om sommige SOI's op te doen, kan deur inenting verminder word.

  • Wees bewus van jou status
    Nie alle SOI's toon simptome nie, en jy wil nie in die duister wees oor jou status nie. Bly op hoogte van jou gesondheid en voorkom die verspreiding van SOI's deur gereeld getoets te word. Hier is waar jy 'n kliniek naby jou kan vind (slegs VSA).

  • Praat daaroor
    Kommunikasie is alles: Voordat jy fisies intiem raak met 'n maat, praat oor seksuele gesondheid en SOI-toetsing. En wees bewus daarvan — op sommige plekke is dit eintlik 'n misdaad om bewustelik 'n SOI oor te dra. Het jy hulp nodig om die gesprek aan die gang te sit? Hier is 'n paar wenke.

  • Toestemming
    Alle seksuele aktiwiteit moet met toestemming begin en moet deurlopende kontrolering met jou maat insluit. Verbale kommunikasie kan jou en jou maat help om te verseker dat julle mekaar se grense respekteer. Toestemming kan enige tyd teruggetrek word, en seks is nooit aan iemand verskuldig nie. Moenie voortgaan as jou maat ongemaklik of onseker lyk nie, of as jou maat weens die uitwerking van dwelms of alkohol nie toestemming kan gee nie. Lees meer oor hoe toestemming lyk.